Gedagte vir die dag: Dit wat oorbly

Skrif: “Al die mense het geëet en genoeg gekry, en hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood wat oorgebly het” (Matt 14:20).

Toe Jesus die brood en die vis vermeerder het, was daar nie net genoeg nie – daar was méér as genoeg. Wat my opval, is dat die dissipels die kos wat oorgebly het, bymekaargemaak het – twaalf mandjies vol.

Eerstens beklemtoon dit die grootsheid en egtheid van hierdie wonderwerk. Hulle het op die ou end meer oorgehad as waarmee hulle begin het. Dit weerlê die verklaring van sommige kommentators dat daar nie regtig ʼn wonderwerk plaasgevind het nie, maar dat Jesus deur sy voorbeeld net meegebring het dat almal wat kos by hulle gehad het, dit met ander begin deel het.

Ons vind hier ook ʼn voorbeeld van God se ekonomie. God het alle voedsel gemaak – daarom is dit in ’n sekere sin gewyd en heilig. Ons moet versigtig wees hoe ons met kos – en veral met dit wat oorbly – omgaan. Omdat die kos wat die aarde voortbring ʼn gawe van God aan ons is, is dit sonde om daarmee te mors, veral as ons dink aan die miljoene mense in ons land en in die wêreld wat altyd te min het om te eet, of selfs niks het om te eet nie.

Een van die duidelikste tekens van ons voorspoed is die getal vullissakke/houers wat elke week op die sypaadjies uitgesit word. Dit is ʼn redelike betroubare aanduiding van ons leefstyl. Kyk maar hoeveel mense probeer oorleef deur dít wat hulle kry uit die oorskiet wat ons weggooi.

Jesus stel hier vir ons ʼn voorbeeld: Hy laat al die oorskiet optel, want daar is ander wat dit graag wil hê. Ek wonder of ons hieruit ook kan aflei dat Jesus vir ons ʼn voorbeeld van netheid stel om nie rommel te strooi en ons aarde te bemors nie, en om die plekke waar ons bymekaar was, skoon agter te laat.

Gebed: Dankie, Here, dat U my leer om my kos met meer dank en waardering teenoor U te geniet. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.