Gedagte vir die dag: Doen slegs u wil, Heer

94c9658c-4bf1-46ab-96a5-eaaecc337a66Jeremia 18:2-4: Gaan af na die pottebakker se huis toe, Ek sal daar met jou praat. Ek is toe af na die pottebakker se huis toe, en hy was juis besig om iets op die skyf te maak. Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.

Adelaide Pollard was ‘n Amerikaanse skrywer van Christelike liedere met ‘n droom – sy wou as ‘n sendeling in Afrika gaan werk. Ongelukkig kon sy nie genoeg fondse bymekaar kry om die reis te onderneem nie. Baie mismoedig het sy een aand ‘n biduur bygewoon en daar het sy ‘n ouer vrou hoor bid: “Here, dit maak nie saak wat U met ons doen nie, solank dit net binne u wil vir ons lewens is.”

Die woorde het Adelaide baie beïndruk. Sy is huis toe en het aan die hand van Jeremia 18:2-4 diep nagedink oor dié vrou se gebed. As gevolg hiervan het sy ‘n lied geskryf wat miljoene mense regoor die wêreld steeds sing. Ons ken dit in Afrikaans met die volgende woorde:

Doen slegs u wil, Heer, u wil met my,
U, Pottebakker, met my, die klei;
vorm my en maak my net soos U wil;
op U vertrou ek, nederig en stil.

Net soos Adelaide vergeet ons ook soms dat ons die klei is en nie die pottebakker nie. Paulus sê in Romeine 9:20-21, “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?” Die Here maak ons en Hy vorm ons in ‘n nuttige werktuig volgens sy wil. Dit is nie ‘n maklike proses nie. Die proses om gevorm te word in ‘n nuttige werktuig wat die Here kan gebruik, is soms pynlik, maar dit is nodig.

Kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Adelaide wel in Afrika aangekom. Die oorlog het haar egter gedwing om na Skotland te gaan. Na afloop van die oorlog het sy na Amerika teruggekeer, waar sy ten spyte van swak gesondheid voortgegaan het om die evangelie te verkondig.

Gebed: Here, vergewe my al die kere wat ek hardkoppig probeer om op my eie my lewe te vorm. Ek bid dat U my volgens u wil sal vorm sodat U my tot die uitbreiding van u koninkryk kan gebruik. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.