Gedagte vir die dag: Doen wat jy kan

h07-cross_sunset-10Hand 18:6 – As julle verlore gaan, is dit julle eie skuld. Ek aanvaar nie die verantwoordelikheid daarvoor nie”.

“Jy was mos ‘n Christen. Waarom het jy nooit met my oor die belangrikste ding van alles gesels nie?” sal die klag wees wat baie kollegas voor hulle Christen-vriende op die oordeelsdag sal hê. Ons weet mos wat reg is. Is ons tevrede om vriende, familie en kollegas sommer net so hel toe te sien gaan? Gee ons werklik vir hulle om? Glo ons werklik die Bybel dat Jesus die enigste pad na God toe is? Hoekom is ons dan so selfsugtig? Paulus wou nie hê dat daar een Jood in Korinte moet wees wat kan sê hy het nie geweet nie. Vir hom het dit nie gegaan oor kerkgroei of groter inkomste nie. Hy het nie eens salaris gekry nie. Hy moes deur die week met sy eie hande tente maak om aan die lewe te bly (Hand 18:3). Wat wel vir hom saak gemaak het, was dat niemand, so ver dit in sy mag was, verlore moes gaan nie. Selfs die Jode wat hom verwerp het, moes nie in die oordeelsdag kon sê hulle het nie geweet nie. Daarom het Paulus voortgegaan om die goeie nuus van Jesus met Jode en nie-Jode te deel. Soms het hy dalk moedeloos geword, maar dan het die Here hom weer bemoedig (v 9- 10). Uiteindelik het hy ‘n sterk gemeente agtergelaat, aan wie hy ‘n reeks briewe geskryf het. Twee daarvan is in ons Bybel opgeneem. Korinte was ‘n handelstad waar baie handelsroetes gekruis het, en growwe onsedelikheid was algemeen (1 Kor 6:9-11). Maar God het so ʼn onwaarskynlike plek gekies om ‘n kerk te bou. Wil Hy nie dieselfde doen daar waar jy woon en werk nie?

Gebed: “Here, ek bely my selfsug en liefdeloosheid. Help my om vandag met u liefde na mense toe uit te reik.

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.