Gedagte vir die dag: Dors na die Here

Psalm 42:2,3 – Soos ʼn bokkie in die woestyn wat dors is vir water, so het ek ʼn vurige verlange om by U te wees, God! Net soos ʼn bokkie sonder water doodgaan, gaan ek dood as ek nie by U is nie. Ek wil heeltyd net by U wees. God, U gee lewe. Ek leef net vir daardie oomblikke wanneer ek u Naam kan grootmaak tussen al u kinders.

In die vorige gedeelte het ek natuurrampe genoem, wat eg en verwoestend is. Min dinge is egter so erg soos ’n droogte. Om die diere te sien ly en uiteindelik wreed te sien sterf as gevolg van ʼn tekort aan water is hartverskeurend. Dis die beeldspraak wat in hierdie Psalm gebruik word.

Ek en jy moet soos ʼn bokkie in ʼn woestyn wees wat smag na water. Ons moet doodgewoon met alles in ons daarna smag om by die Here te wees. Om God te mis en vir dae nie by Hom te wees nie moet vir jou wees soos om iets te ervaar van geestelik doodgaan.

Dit is hoe dit werk: As jy afdwaal van die Here en jou pad sonder Hom loop, loop dinge in jou lewe skeef. Jou verhoudings begin uitmekaar val, jou gemoedstoestand raak al hoe meer negatief en jy raak sommer al hoe meer omgekrap en geïrriteerd. Dis die dors sonder God waarna Psalm verwys. Baie mense gaan “dors” deur die lewe: sonder God. Moet jy nie dieselfde fout maak nie. Drink elke dag God se lewende water en stap tree vir tree saam met Hom.

Gebed: Here, ek kies om elke tree van my lewe saam met U te gee. Dankie dat U my geestelike dors vir ewig les.

O mens, troos jouself hieraan: Jy sou God nie gesoek het as Hy jou nie reeds gevind het nie. Blaise Pascal

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.