Gedagte vir die dag: Drie liefdes

Matteus 22: 37-39
Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

Die grootste en belangrikste gebod is om die Here jou God met jou hele wese lief te hê. Dit is ononderhandelbaar. Dit is egter nie iets wat ons uit eie krag kan doen nie; die Heilige Gees is die Een wat ons liefde vir Christus aan die brand steek en die vlam aan die brand hou.

As jy God volkome liefhet, sal jy ook sy skepping liefhê, en dit sluit jou naaste in. Wanneer Jesus sê dat ons ons naaste moet liefhê, bedoel Hy dit in die wydste betekenis moontlik. Hy praat nie net van jou bure of jou vriende of jou gesin nie, maar van almal wat hierdie planeet bewoon. Dit is baie moeilik want dit beteken dat ons selfs diegene wat ons onaangenaam en totaal onaanvaarbaar vind, moet liefhê. Ons moet dit doen deur met deernis na mense uit te reik, veral na diegene in nood.

Maar in hierdie, die tweede belangrikste gebod, is daar ‘n derde liefde ingesluit wat ons nie mag verwaarloos nie. Jy moet jouself ook liefhê, net soveel soos jy jou naaste liefhet. Baie Christene skiet hier tekort. Hulle persoonlike omstandighede het hulle selfbeeld heeltemal afgebreek en hulle het alle selfvertroue verloor.

Indien jy in hierdie kategorie val, is dit tyd dat jy opnuut besef dat God jou na sy beeld geskape het. Hy het jou lief. Jy is vir Hom uiters kosbaar. So kosbaar dat sy Seun sy hemelse troon verlaat het om na die wêreld te kom om vir jou te kom sterf – dit maak jou werklik ‘n baie spesiale persoon!

Gebed: Hemelse Vader, deur u genade kan ek my kop hoog hou. Maak my voortdurend daarvan bewus dat U my liefhet en gee dat ek my naaste sal liefhê soos myself. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.