Gedagte vir die dag: Droom jy groot?

Stiltetyd-17.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Daar is baie drome, baie wat tot niks kom nie, ook baie woorde. Maar dien jy vir God! (Prediker 5:6)

Ná die sondvloed het Noag se nageslag vinnig aangegroei. ’n Groot groep het in Mesopotamië tussen die Tigris en die Eufraat in die vlakte van Sinar gebly. Hulle het geglo dat die gode in die wolke woon en op berge aanbid moet word. Omdat daar nie berge tussen die twee riviere was nie, het die Mesopotamiërs torings of ziggoerats gebou – ’n soort piramide wat trapsgewys al hoër en kleiner word met ’n platvorm heelbo as ’n soort ontmoetingsplek. Ziggoerats wat oor milleniums heen as monumente ter ere van beskermgode opgerig is, is nog in Irak en Iran te sien.

Die mense van Babel het ’n droom gehad. Hulle het vir mekaar gesê: ‘Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde ver­sprei nie’ (Gen 11:4). Hulle droom was nie om God te vereer nie, maar om ’n sterk groep te word en as mense van naam bekend te staan.

God het die besigheid vanuit die hoë hemel aanskou. Dat hulle hulself tot gode wou verhef met die bou van ’n nietige torinkie was belaglik, maar ook onrusbarend. ‘Kom laat Ons afgaan,’ het Hy gesê, ‘en verwarring bring in hulle taal, sodat die een nie die ander verstaan nie’ (Gen 11:7).

Van hierdie groep mense se woorde en drome het toe niks gekom nie.

Drome is nie noodwendig sleg nie, ’n mens mag droom en werk om jou drome te verwesenlik. As jy ’n welgestelde sakeman is wat droom om eendag ’n wolkekrabber te besit, is jou droom nie onmoontlik nie. Iemand anders droom weer van ’n plaas in die Karoo. God gun ons ons drome, maar dan moet ons Hom nie vergeet nie. Om Hom te dien moet groter as ons drome wees.

Here, bring ons asseblief aarde toe voordat ons drome obsessies word wat ons geloof in U ondermyn en ons liefde vir U laat verflou.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.