Gedagte vir die dag: Één maak saak

Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel” (Mark 5:32-33).

Jesus  word op pad na Jaïrus se dogtertjie onderbreek deur hierdie vrou wat genesing ontvang toe sy aan Sy klere raak maar in die geheim wou wegkom.

Jesus het egter veel meer gehad om aan haar te gee as fisieke genesing. By Hom is daar ook verlossing, saligheid en vrede. Daarvoor sou sy Hom egter persoonlik moes ontmoet. En daarom sou sy nie anoniem kon bly nie. Wat my in hierdie verhaal aanraak, is dat Jesus vir hierdie onrein en verwerpte vrou tyd maak. As individu was sy vir Hom belangrik genoeg. Sy dringende sending na Jaïrus se dogtertjie was nie belangriker as die nood van hierdie enkeling nie. Individue, enkelinge, maak vir die Here saak. Die grote God is nie te haastig vir één persoon in nood nie – al is dit wié.

Toe hierdie vrou besef sy sou nie anoniem kon bly nie, dat sy ontmasker sou word, het vrees haar oorweldig. Verstaan mooi, in haar ortodokse, wettiese gemeenskap kon sy gestenig word as dit bekend sou word dat sy deur haar teenwoordigheid ’n hele klomp mense onrein gemaak het. Die Bybelse woorde laat geen twyfel by ons nie: Sy “het geskrik en gestaan en bewe” (Mark 5:33). Stel jou voor hoe hierdie vrou, wat dalk ouer as Jesus was, voor Hom neerval, bewend en vreesbevange. Die uur van waarheid het vir haar aangebreek. Maar wat ’n wonderlike waarheid! Sy het uitgekom by Hóm wat nooit die bange, die swakke en die gebrokene verneder of verwerp nie. By Hóm is daar genade – in oorvloed.

My gebed vir jou en my is dat ons in 2013 eerlik en deursigtig na die Here sal kom met die besef dat Hy die hele waarheid oor ons lewens ken.

Mag die Here se genade en goedheid in jou lewe in hierdie jaar onomwonde duidelik wees!

(Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van S.A.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.