Gedagte vir die dag: Eer die Here wat ’n nuwe begin moontlik maak

Argieffoto (Foto: Aperture Vintage/ Unsplash)

“Daarom, so sê die Here tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie; want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees” (Jesaja 29:22-23).

Skrifgedeelte
Jesaja 29:17-24

Oordenking

Ons het al so gewoond geraak aan mense se halwe werk dat ons dikwels ook van die Here nie veel meer as dit verwag nie. Hy leer sy volk in hierdie deel van die profesie van Jesaja dat sy oordeel en sy verlossing radikaal is, ten volle. In sy oordeel word Jerusalem verander tot “Ariël”, die “vuurmaakplek” (29:2), want “hulle eer My met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af” (vs 13). Ellende wag vir hulle wat Hom nie van harte dien nie.

Hy is egter reeds gereed om hulle te verlos, en ook as Hy verlos, doen Hy dit ten volle. Hy sal hulle skaamte en vrees weer wegneem en hulle weer talryk maak soos Hy destyds ook aan Abraham belowe het. Hy werk verstommend. Van hierdie hoofstuk af kan ons al uitsien na die volk se terugkeer uit ballingskap en die herbou van Jerusalem, maar ook na die koms van die Verlosser in die wêreld en na sy wederkoms. Dan sal almal Hom eer. Wanneer die Here ’n mens se lewe verander, laat Hy ’n nuwe begin vir ons aanbreek.

Hy gee weer insig aan mense wat in dwaasheid gedwaal het en eiewys gedurig foutvind. Hy bewerk in ’n mens se lewe die radikale ommekeer dat iemand wat net vir hulself geleef het, weer vir God ontsag kry en Hom eer. Selfs as ons soms dink dat dit te laat is om weer reg te kom of dat na so ’n verval in sonde daar nie weer hoop op bekering is nie, of dat die skade te groot en herstel nie meer moontlik is nie, dan voorsien en sorg en red die Here. Hy het Jesus Christus as die Heiland gegee, die Een wat heelmaak sodat ’n mens God weer van harte kan eer met ’n lewe wat aan Hom toegewy is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.