Gedagte vir die dag: Eerbied en ontsag vir God

Argieffoto (Foto: Am Tran/Unsplash)

“As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God, te vrees nie” (Deuteronomium 28:58).

Skrifgedeelte
Deuteronomium 28:58

Oordenking

Die naam van God leef by baie mense nog net as ʼn vloekwoord – ʼn vergete naam, ʼn misbruikte naam. Sou dit nie beter gewees het as God se naam liewer nooit in omloop gebring is nie? Nou het dit soos ʼn verslete muntstuk geword. Soos ʼn werklike grootmens nie nodig het om grootdoenerig te wees nie, so het God, Wie se naam bo elke ander naam is, nie nodig om, soos die mens, naam te maak en sy naam eers te vestig nie. God wedywer nie met die groot name in die wêreldgeskiedenis nie. God se naam, ontsaglik heilig, staan oor elke ander naam van hierdie wêreld geskrywe. Die wonderlike is: God besit ʼn naam, en nog wonderliker: God openbaar daardie naam én in daardie naam, Homself! In daardie naam sê Hy Wie Hy is, wat Hy doen. Daarom is die naam in sekere sin God self.

Die naam is: God in aksie. By ons is dit anders. Ons naam sê niks meer van onsself nie, niks van my karakter of van my werk nie. By God sê die naam alles. Ken God se naam, dan ken jy God. God is so naby as sy naam self. As hierdie naam die liefdesnaam van my lewe geword het, dan word ek ʼn naamdraer van hierdie God. Ja, ek word self ʼn naam van God. My lewe word: God in aksie. Dit is wat die naam Christen beteken. Met jou doop het God sy naam oor jou lewe geskrywe en jou naam in sy handpalm gegraveer. Is dit sprekend van jou lewe? Het jy al by hierdie adres op jou voorhoof tuisgekom? Sorg dat jy eerbied en ontsag betoon aan die Here jou God, Hy aan Wie se naam eer en ontsag toekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Kennis begin waar daar eerbied is vir God en wysheid begin waar daar ontsag is vir God.Spreuke 1:7 en Spreuke 9:10.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.