Gedagte vir die dag: Egte wonders

kruis (Medium)Mark 1:42-44 –  “Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek en vir hom gesê het: ‘Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het’”.

Dink aan die grootsheid van die wonder wat hier plaasgevind het. “Onmiddellik” het die man se melaatsheid verdwyn. Selfs Lukas, wat ʼn mediese dokter was, bevestig hierdie oombliklike genesing (Luk. 5:13). Dit was ʼn genesing wat niemand kon versin nie. Iets van die koninkryk het weereens deurgebreek! Jesus se genesingswonders was ʼn voortsetting van sy prediking oor die heerskappy van God. Deur die sluier van sy liggaam skyn sy Goddelikheid en heerlikheid.

Toe Jesus hierdie man verbied het om aan iemand te gaan vertel wat gebeur het, het Hy waarskynlik bedoel dat hy nie daaroor moes praat voordat hy deur die priester rein verklaar is nie. As gevolg van antieke Israel se streng wette en kwarantynmaatreëls het die priesters ten opsigte van melaatsheid as ’t ware die rol van ʼn gesondheidsbeampte of dokter gespeel, wat moes sertifiseer dat ʼn persoon waarlik genesing ontvang het (Lev. 13 – 14).

Jesus wou nie hê daar moes enige twyfel bestaan oor die egtheid van hierdie man se genesing nie. As die Here waarlik iets vir jou gedoen het, kan jy dit maar laat toets, en jy kan dit maar waag om daaroor te getuig. Wat Hý doen, is eg en waar. Hierdie man het wyd en syd begin vertel wat Jesus vir hom gedoen het, en die mense het van oral oor na Hom toe gestroom (Mark 1:45). Daar is geen advertensie soos ʼn egte genadewerk van Jesus nie!

Gebed: “Laat die egtheid van U werk in my lewe ook ander na U toe trek, Here Jesus. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.