Gedagte vir die dag: Eienskappe van ware Christenvriende

Hoe lyk ware Christenvriendskap? Kom ons ontleed so vriendskap volgens eienskappe wat maklik is om the herken.

Christenvriende se liefde is vol opofferings
Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. Johannes 15:13  

Jesus is die beste voorbeeld van ‘n ware Christenvriend.  Sy liefde vir ons is vol opofferings, nooit selfsugtig nie.  Hy het sy ware liefde vol opofferings byvoorbeeld deur sy wonderwerke van genesing gedemonstreer, en verder deur die nederige daad om die voete van sy dissipels te was en uiteindelik deur sy lewe vir ons aan die kruis af te lê.

 Christenvriende vertrou mekaar volkome
Maats kan jou breek, maar daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer. Spreuke 18:24

Hierdie spreuk herinner ons dat ‘n ware Christenvriend betroubaar is, en dit waarsku ons dat ons moet verwag om net ‘n paar lojale vriende te hê wat ons volkome in ons vertroue kan neem.  Om mense te maklik te vertrou, kan jou breek.  So, wees versigtig wie jy vertrou. Met tyd sal jou ware Christenvriende hulleself bewys deur by jou te staan, selfs meer as ‘n broer of suster.

Christenvriende bou mekaar op
Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.  Spreuke 27:17

Ware Christenvriende sal mekaar emosioneel, geestelik en fisies opbou.  Van ons Christenvriende ontvang ons krag, bemoediging en liefde.  Ons praat, ons huil, ons luister.  Maar soms moet jy ook moeilike dinge sê wat jou dierbaarste vriend nodig het om te hoor.  Maar juis omdat julle mekaar vertrou en aanvaar, is jy miskien die enigste persoon wat tot jou vriend kan deurdring, want jy weet hoe om ‘n moeilike boodskap op ‘n Christelike manier oor te dra.  Op sy beurt help hierdie vriend om jou te vorm sodat jy meer bruikbaar vir God kan wees.

‘n Ware Christenvriend is ‘n seldsame skat.  So ‘n vriendskap neem tyd om te ontwikkel, maar in die proses groei ons om meer aan Christus gelyk te word.

Gebed: Here, help my om toegewyd in my vriendskappe te wees. Ek bid dat ek meer vir my vriende sal opoffer, dat hulle my sal kan vertrou en dat ek deur u genade my vriende sal toelaat om my te vorm.  Amen.

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.