Gedagte vir die dag: Ek het niemand…(1)

Joh 5:7 – Ek het niemand …”

Op Jesus se vraag aan die verlamde man by die Bad van Betesda of hy regtig gesond wil word, gee die man ’n skokkende antwoord: “Ek het niemand …” Daar was ’n menigte mense om die bad wat meegeding het om eerste in te gaan wanneer die water begin beweeg het, en hy was verlam. Hy kon nie vanself in die water kom nie. Sy kans om gesond te word was dus maar skraal. Hy het iemand nodig gehad om hom te help. Maar ná 38 jaar was daar niemand nie.

Kan dit wees dat daar ná al daardie jare nie een persoon was wat gesê het nie: Ek kan sien jou geval is erger as myne, en dat jy al veel langer hier wag as ek? En wat van al dié wat oor die jare heen die wonder van genesing by hierdie bad ervaar het? Was daar niémand wat uit dankbaarheid teruggekom het om die ander wat ly, net soos hulle self gely het, te help nie? Was dit maar dieselfde ou storie van die mens se sondige selfsug: “Elkeen vir homself en die duiwel vir die res”? Die soort gesindheid wat ons sien by ’n uitverkoping waar mense mekaar sal vertrap om eerste gehelp te word? Of was dit maar die tipiese onwilligheid van die meeste mense om by ander betrokke te raak, soos die priester en die Leviet in die verhaal van die Barmhartige Samaritaan wat die gewonde sterwend langs die pad gelos het?

Hoe dikwels hoor en sien ons vandag hierdie selfde gesindheid! Iemand word in die openbaar aangeval en beroof, maar ander loop verby en maak of hulle dit nie sien nie. Is mense bang om betrokke te raak? Bang hulle gaan dalk seerkry, dat hulle hande vuil sal word, dat hulle dalk in ’n hofsaak sal moet gaan getuig? Die hartseerste is dat talle mense wat vandag in nood is steeds moet sê: “Ek het niemand …”

Gebed: Maak my oë oop sodat ek vir iemand in nood ’n “iemand” kan word, Here. Amen.

Outeur: Dr Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.