Gedagte vir die dag: Ek het niemand…(2)

(Joh 5:7) “Ek het niemand …”

’n Mens staan verstom oor die onbetrokkenheid en ondankbaarheid van soveel mense wat oor die jare heen by die Bad van Betesda genesing ontvang het, maar nooit belanggestel of probeer het om hierdie arme man, wat 38 jaar lank daar gelê het, te help nie. Hoor net sy jammerklag teenoor Jesus: “Ek het niemand …”

Is dit moontlik dat iemand eendag voor die Here sal gaan staan en die volgende gesprek daar sal plaasvind? “Waarom het jy My nooit aangeneem en nooit op my liefde gereageer nie?” vra die Here. “Maar ek het nooit van U gehoor nie,” antwoord die persoon. “Maar jy het dan elf jaar lank langs een van my kinders gewoon!” Of: “Ek het dit dan so beskik dat jy jare lank saam met een van my kinders gewerk het.” Hoe tragies sal dit wees as hierdie persoon dan moet sê: “Daar was niemand nie, Here. U kind het my nooit probeer help nie, en het my nooit van u liefde vertel nie.”

Is dit moontlik dat hierdie “niemand” dalk ek of jy kan wees? Is dit dalk deel van God se genadeplan dat jou buurman, vriend, kollega en familielid – wat nog nie vir God ontmoet het nie, wat nog nie “in die bad van Betesda was nie” – naby jou woon, werk of leef? Ek en jy was mos al in Betesda, of hoe? Ons het mos iets om oor te getuig! Ons kan mos uit ondervinding praat en vertel! Baie mense – soos hierdie verlamde man – het hulp nodig om in die “water” te kom. Dis nie genoeg om te sê nie: “Daar is ’n kerk op die hoek.” Of: “Hy of sy kan mos self die Bybel lees.” Kom ons laat vandag die “niemand” verdwyn, en word vir ander ’n “iemand”.

Gebed: Help my om vandag ’n “iemand” vir ander te wees, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.