Gedagte vir die dag: Ek soek ‘n wonderwerk in my lewe

seënEfesiërs 4:14a – Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind (nie) ….

Ons almal droom van wonderwerke. “Ag as ek net ‘n wonder kan sien …” is die versugting van baie harte.Ons word meegevoer deur wat ons op die TV-skerm sien. Ons droom van “makeovers” wat ons lewens van vaal na vrolik sal omtower in ‘n oogwenk. Ons droom ons dae om met die hoop dat iets ons lewens dramaties gaan verander. Ons bid vir die regte werk om in ons skoot te val; ons bid dat ons die regte maat wat alles gaan verander sal ontmoet. Ons bid dat die skinderstories wat ons versprei het, nie skade gaan doen nie. Soms is ons gebede sommer net wensdenkery soos om te bid vir ‘n somersdag in die middel van die winter.

Mense hou daarvan om God as ʼn towenaar sien. God kan enigiets doen, dink ons. God kan nie enigiets doen nie, juis omdat Hy God is. Tog is ons Christelik geloof op wonderwerke gebaseer. Wonderwerke gebeur wanneer toegewyde Christene alles in die stryd werp om die goeie tot stand te bring. Sulke wonderwerke gebeur wanneer vergifnis van die onvergeeflike plaasvind en versoening gebeur. Wonderwerke gebeur wanneer mense oor grense heen versoen word. Wonderwerke gebeur wanneer gebroke verhoudings herstel word – wanneer man en vrou, vader en seun, broer en suster, vriend en vyand mekaar vergewe en vind. Wonderwerke gebeur wanneer die leeu en die lam saam wei en swaarde in ploegskare gesmee word.

Die grootste wonderwerk ooit was egter toe God onder ons kom woon het en vir ons kom instaan het sodat die dood nie die laaste sê sou hê nie. In plaas daarvan om op jag te wees na wonderwerke, kom ons doen liewer die wil van ons Vader en al die dinge sal vir ons bygevoeg word.

Gebed: Here help ons om te begryp dat om te smag na die onmoontlike nie wonderwerke te weeg bring nie. Gee dat ons ons eerder daarop sal rig om u wil te laat geskied. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman Kriel ·

Dit is so waar, ons lewe in n kits wereld waar als met die druk van n knoppie gebeur. Mens voel of jy op die berge kan gaan staan en vanoggend se dag stukkie vir die wereld daarbuite met al sy korupsie moord en skeef getrekte verhoudings kan uitskree.

H J Bester ·

Dankie vir ‘n wonderlike God wie se werke in ons lewe te alle tye “wonderwerke” is. Hoe sal ons ooit God se genade en liefde verstaan – want dis so oorweldigend !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.