Gedagte vir die dag: Ek wens….

Eksodus 20:17-Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike (1 Sam. 16:7). Dis presies waaroor dit in hierdie gebod gaan. Ons is tog so ingestel op die sigbare en die voor-die-hand-liggende. En as ons buitekante vir óns die belangrikste is, is die kanse goed dat dít is wat ons van ánder gaan raaksien. Ons hou makliker van iemand wat sag op die oog is of meer fatsoenlik lewe, nie waar nie?

Die innerlike van die mens gaan nie oor wat ek doen nie, maar oor wie ek eintlik is. Dis maklik om iemand se dade te beoordeel, maar ons diepste wese ken niemand. Daarom dat ons so maklik maskers kan opsit, rolle kan speel, kan voorgee. En so flous ons almal. Tot op ʼn punt. Dan is dit soos ʼn opgebottelde vulkaan wat uitbars.

Die erge ding is dat ons ménse soms ʼn rat voor die oë kan draai, maar nie vir die Here nie, en nie vir onsself nie. Hy weet wie ons is, hoe ons dink. Hy weet wanneer ons gedagtes ons wegvoer na paaie waarop die duwweltjies en dorings geil gesaai lê. En dit is waarheen ons normaalweg neig. Nie die pad wat ons help om gesag te eerbiedig nie, nie die een wat lewe respekteer nie, nie die een wat verhoudings opbou nie, nie die een wat ander hulle deel gun nie, nie die een wat die waarheid bo alles liefhet nie. Gewoonlik die teenoorgestelde. Ek hoef niemand daarvan te oortuig nie. Ek hoef geen teologie aan te haal nie. Ons leef elkeen met onsself saam en ons weet!

Jy hoef nie in sak en as te gaan sit of bloot toe te gee aan al hierdie ‘natuurlike geneigdhede’ nie. Jy kan anders wees. Jy kan nuut dink. Jy kan die mooie as ideaal nastreef. Dis wat Jesus Christus kom moontlik maak het. Laat sy Gees jou sterk maak daarvoor.

Gebed: Here, dankie dat ek in u krag nie ʼn slaaf van my eie begeertes hoef te wees nie. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.