Gedagte vir die dag: Ek is

Eksodus 20:2 – Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

‘Ek is’ is die Naam waarmee die Here Homself aan Moses bekendgestel het toe hy geroep is om die volk uit Egipte uit te lei. Dis waaraan die volk nou herinner word. Die eintlike ‘Wetgewer’, die Een wat die verlede, hede en die toekoms  in sy hand hou, is aan die woord.

Die Here begin met alles wat die Hy vir sy mense gedoen het. Hy neem altyd die inisiatief in die verhouding met sy volk; dié volk wat Hy vir Homself uitverkies het om die draer van sy Naam in die wêreld te wees. Daarom is Hy hulle God – nie omdat Hy aan húlle behoort nie, maar omdat hulle aan Hóm behoort.

Die geskiedenis wat die volk so goed ken, word as verwysingsraamwerk gebruik. Want hulle onthou nog waar hulle vandaan kom en wie hulle was voordat die Here hulle hulpgeroepe gehoor het (Eks 3:7): slawe wat willoos aan die farao en sy Egiptenare uitgelewer was. Hulle moes dag en nag onmenslike behandeling (of mishandeling) verduur.

‘Ek is’ het die hakkelende en stotterende Moses na die farao toe gestuur wat eers deur die tiende plaag ‘oortuig’ is dat die volk mag trek. ‘Ek is’ het die volk droogvoets deur die Rooi See laat trek, terwyl die Egiptiese agtervolgers hulle Moses teëgekom het! Hulle wat eers geen volk was nie, word nou saamgesnoer. Slawebande is afgegooi en vryheid het ʼn werklikheid geword. Maar ʼn vryheid wat met verantwoordelikheid gepaard gegaan het….

Nie een van ons het die Egipte-episode beleef nie. Maar ons ken ʼn ander  slawerny: dié van die sonde wat jou wil verswelg. Meer as dit: ons ken bevryding. Die ‘Ek is’ van Eksodus het weer gepraat en dié Woord het mens geword en tussen ons kom bly (Joh 1:14). Dis Hy wat gesê het: ‘Ek is die Goeie Herder…’ Hy het ons uit die greep van die sonde uitgelei en bevry!

Dis die evangelie!

Gebed: Here, dankie dat gister daar was, vandag daar is en vir altyd by ons sal wees. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.