Gedagte vir die dag: Elke dag is ‘n geskenk van Bo

geskenkPsalm 118:24 – Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

As jy in die tyd geleef het toe dit verpligtend was om by die tempel in Jerusalem te aanbid, sou jy hierdie teksvers baie goed geken het. Dit is deel van ‘n lied om die Here te dank en te loof.

Een keer ‘n jaar het die volk van Israel buite die tempel bymekaargekom vir die loofhuttefees. Hierdie fees is soortgelyk aan die oesfees wat sommige kerke jaarliks vier. God se kinders is beveel om gedurende hierdie fees met blydskap die Here te dank vir al sy seëninge en sorg. Dit was ook belangrik om op dié dag mededeelsaam te wees en na ander uit te reik.

Te dikwels is ons gedagtes propvol van ons eie probleme. In ons gejaagde lewens is dit so maklik om die Here baie laag op ons prioriteitslys te plaas. Ons moet onthou dat elke dag wat ons wakker word ‘n geskenk van God is.

Die Almagtige God wat hemel en aarde gemaak het, en ons na sy beeld geskape het, het ook hierdie dag vir ons gemaak. Hy is ‘n groot en wonderbare God.

Hy roep sy kinders van geslag tot geslag om Hom te loof en eer. Nou is dit ons beurt en dit moet ons met blydskap vul. Hy het ons lief en Hy het vir my en vir jou deur genade en nie omdat ons dit verdien nie juis op hierdie stadium op aarde geplaas om Hom te verheerlik. Ons is egter slegs vir ‘n tydperk en nie vir altyd nie hier geplaas! Ons behoort elke dag ons oorweldigende dankbaarheid en lof aan God te bewys omdat Hy ons so liefhet.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat deur die Heilige Gees ons elke dag wat U aan ons skenk tot u eer sal leef. In die Naam van Jesus Christus vra ons dit. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.