Gedagte vir die dag: Erken skuld

Spreuke 19:3
Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.

Om skuld te erken wanneer dinge verkeerd loop, is nie maklik nie. Die eerste reaksie wanneer daar ‘n probleem ontstaan, is dikwels nie hoe dit reggestel kan word nie, maar wie se skuld dit is. Dit is ‘n baie spesiale persoon wat die situasie sal beoordeel en, indien nodig, onmiddellik skuld sal erken.

Dikwels wanneer ‘n motorongeluk plaasvind, blameer mense gou die ander bestuurder, of ‘n fout met die motor, die weer of die padtoestande eerder as om hulle eie nalatigheid te erken. Versekeringsmaatskappye sê dikwels vir hulle kliënte om nie skuld te erken nie.

Om God en ander vir ons eie dwaasheid te blameer is ‘n eeue oue menslike fout. “Hierdie mense kla gedurig en is altyd ontevrede met hulle lot… (Judas v16)

Adam is ‘n klassieke voorbeeld van iemand wat ‘n ander blameer toe God hom vra hoekom hy geëet het van die vrugte van die boom wat God hulle verbied het om te eet. Sy antwoord was: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” (Genesis 3:12)

Skaam jou Adam! Om God te blameer vir die vrou wat Hy jou gegee het en dan boonop vir Eva die skuld te gee oor die vrug wat sy vir jou gegee het. Jy hoef dit nie te geëet het nie.

Niemand is volmaak nie en ons almal maak foute. Kom ons aanvaar skuld en probeer nie altyd om iemand anders te beskuldig.

Dit is die uitdaging vir ons as Christene want, na alles, het Christus aan die kruis ons skuld ten volle op Hom geneem.

Gebed: O, Here, ons is dikwels so trots. Ons wil nie erken wanneer ons verkeerd is nie en dit is ook nie vir ons maklik om verantwoordelikheid te aanvaar wanneer ons skuldig is nie. Skenk aan ons die moed om nie ons oë op onsself te rig nie, maar op die kruis van ons Here Jesus en gee aan ons die genade om van U te leer. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.