Gedagte vir die dag: Fokus altyd op die Here

Foto: thefamouspix.com

Foto: thefamouspix.com

Psalm 123:2 – Ons kyk op na die Here, ons God, soos werkers na hulle baas.

Ek het een aand by ʼn sportfunksie langs die baie bekende Sherylle Calder gesit. Sy is baie bekend vir die wonderlike werk wat sy wêreldwyd met sportmense doen betreffende oog-hand-koördinasie. Sy het ʼn rekord wat skrik vir niks: rugbyspanne, sokkerspanne en individuele atlete met baie groot en bekende name. Sy het al mense gehelp om wêreldbekers en wêreldtitels te wen. As jy met haar gesels, kry die idioom: “Hou jou oog op die bal” nuwe betekenis. Hoe gaan jy deur die lewe? Het jy ook die kwaal of geneigdheid dat die geringste terugslag jou vreeslik kan ontstel en terugsit in die lewe? Daar is een belangrike geheim in die lewe met al sy opdraandes en steil bulte en dit is: Hou jou oog altyd op Jesus. Leef jou lewe sonder om ooit jou oog van Hom af te haal. Toe Petrus op die water geloop het, het alles aanvanklik baie goed gegaan aangesien hy baie stip sy oog op die Here gebou het. Die oomblik toe hy na die storm kyk en sy fokus afhaal van Jesus, het hy begin sink. Wat is jou omstandighede wat maak dat jy wil sink? Hou jou oë terug op die Here en fokus op Hom alleen. Hy sal jou help om op water te loop.

So lank as wat ons dink ons na God moet soek, sal ons teleurgestel bly. Dit is andersom. God soek na ons. – Simon Tugwell

Gebed: Here, help my om altyd op U te gefokus te bly. Gee my die krag in moeilike omstandighede om net na U te kyk. Dankie dat U my help om op water te loop.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.