Gedagte vir die dag: Gedagte vir die dag: Juwele uit die skatkis van die Psalms (16) – Eensgesind ten spyte van ons verskille

 Psalm 133:1 – ‘n Pelgrimslied. Van Dawid. Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!

Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe om te dink dat elke mens wat nog ooit op hierdie planeet geleef het, was of is ‘n persoon in sy eie reg met ‘n unieke persoonlikheid en met sy eie kenmerkende karaktertrekke. Ons vingerafdrukke is ‘n bewys dat ons almal verskil.

Soms lei hierdie verskille tot spanning en twis, selfs onder die kinders van die Here. En tog kan daar ook krag in verskeidenheid wees. … en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. Ek (Paulus) het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei. 1 Korintiërs 3:5-6

Slegs die duiwel se belange word gedien wanneer gelowiges stry en mekaar verkleineer.

Die persone wat die Here die beste dien, is diegene wat die gawes wat hulle ontvang het, gebruik en ontwikkel. Eerder as om met mekaar te stry moet ons as Christene mekaar eerder aanmoedig om ons talente wat ons van die Here ontvang het, uit te bou en te ontwikkel.

Iets om oor na te dink: wanneer ons as Christene bymekaar kom, moet ons nooit vergeet Wie ook teenwoordig is nie. … want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Matteus 18:20

Gebed: Here Jesus dit is deur u genade alleen dat ons verlos is en geroep is tot u diens. Skenk aan ons die vermoë om deur u Heilige Gees u hand in alles te kan sien en om u beeld in u kinders te kan raaksien. In u Naam bid ons dit. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.