Gedagte vir die dag: Gee aandag aan die positiewe dinge in jou lewe

Kolossense 3:2 – Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie …

Almal ken die skewe toring van Pisa in Italië. Dit is die gewilde geskiedkundige baken wat goud werd is vir die Italiaanse toerismebedryf. Jare terug het ingenieurs agtergekom dat die toring met millimeters op ʼn slag, stadig maar seker, besig is om na die skewe kant toe oor te beweeg. Die vrees het posgevat dat die toring heeltemal kan val. Elke jaar het hy al hoe skuinser geword. Hulle het alles probeer om die toring te stabiliseer maar niks wou help nie. Hulle was so bang dat hy sou val dat in 1990 besluit is om die toring tydelik te sluit vir besoekers. In 1992 het iemand voorgestel dat hulle totaal nuut moet dink om die toring te red. Daar is besluit om lood aan die teenoorgestelde kant as waarna hy geval het te plaas. Dit was so suksesvol dat die toring na ʼn paar jaar na sy normale skuinste terug gekeer het. Hulle poging om aan die positiewe kant van die toring aandag te gee, lewer toe resultate op. Al die jare het hulle net op die skewe kant probeer fokus maar dit het net meer skeef geword.  Toe hulle begin om aan die ander kant van die saak aandag te gee het dit positiewe resultate gelewer.

Ons kom soms voor ʼn probleem of uitdaging te staan en spandeer baie tyd en energie om die probleem op te los. Dan konsentreer ons net op die probleem en gee baie energie daaraan. In die meeste gevalle pas ʼn mens dan skadebeheer toe, maar die krisis self gaan nie weg nie. Hierdie verhaal leer ons dat die fokus met probleemoplossing eerder op die positiewe in die situasie moet wees. Die energie wat dan loskom is genoeg om die uitdaging te hanteer.

Dit is wat die Bybel ons leer. Ons moet leer om boontoe te kyk en op Jesus te fokus, nie op ons krisisse nie. Hy het die oorwinning behaal oor die sonde, leef eerder sy liefde uit in plaas van te fokus op negatiewe dinge!

Gebed: Here, leer my om die positiewe in al my krisisse raak te sien en U te vertrou om my die krag te gee om al die uitdagings in my lewe te hanteer. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Baie dankie weereens, Bybelgenootskap, vir ‘n vars en vernuwende brokkie uit die Skrif wat ons oorreed om op ‘n ander manier na ons daaglikse lewe te kyk – en lyk dit skielik anders. Hoe almagtig is God tog nie !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.