Gedagte vir die dag: Geestelike antibiotika

Argieffoto Foto: lavidabullcity.blogspot.com

Argieffoto Foto: lavidabullcity.blogspot.com

Matt 5:13: “Julle is die sout vir die aarde”.

Sout was in die eerste plek ’n simbool van reinheid en dit gee ook smaak aan voedsel. Sout het egter ook ʼn derde en belangrike funksie. In die antieke tyd was dit nog belangriker as vandag: sout is bederfwerend. In ʼn tyd toe daar nie antibiotiese middele soos penisillien was nie, is sout as ʼn antiseptiese middel gebruik.

Daar is geen betoog nodig om te bewys dat ons wêreld al hoe meer in die verderf wegsink nie. Terwyl daar fenomenale tegnologiese ontwikkelings en ’n toename in kennis is, neem geestelike en morele verderf teen ʼn skrikwekkende tempo toe. In hierdie opsig kan allermins van ewolusie gepraat word. Inteendeel, ons moet eerder praat van ʼn geestelike en morele dewolusie.

In hierdie wêreld waarin die kerk hom bevind, wil die Here hê ons moet bederfwerende sout, ’n antiseptiese middel, ’n antibiotikum wees. Ons moet ons nie isoleer of kompromitteer nie. Ons moet die verderf afweer en verhoed.

Dit is ʼn werklikheid dat ʼn ware kind van die Here ʼn duidelike invloed op die mense en omgewing rondom hom of haar uitoefen. Jy self het dalk al ervaar dat ongeredde mense dikwels versigtig is met hoe hulle optree en praat in die teenwoordigheid van ʼn geestelik ywerige Christen. Dit is egter logies dat dít net sal gebeur as ʼn Christen se lewe konsekwent die waardes van die Bybel weerspieël. Daar is niks wat jou invloed en getuienis soveel skade kan aandoen as wanneer jy self aan die verkeerde meedoen of betrap word dat jy nie uitleef wat jy verkondig nie. Dit is moeilik om jou geloofwaardigheid ná die tyd te herstel.

Aan die ander kant wil dit lyk of daar in die teenwoordigheid van ʼn Geesvervulde gelowige iets in die geesteswêreld gebeur. Selfs sonder dat ander van jou Christelike oortuigings bewus is, oefen die Een wat in jou woon – die sterker Een – ’n invloed uit op die wêreld rondom jou.

Gebed: “Here, gebruik my lewe as ’n geestelike antibiotikum in ʼn siek wêreld. Amen.“

Outeur: Dr. Izak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.