Gedagte vir die dag: Gekies om te dien

Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees op Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak. Matteus 12:18

Vandag se vers maak dit duidelik dat Jesus ‘n spesifieke bediening hier op aarde gehad het – Hy is deur God self aangestel. Wat ‘n wonderlike ding om deur God aangestel te word. God maak nie aanstellings soos ons dit doen nie. Ons kry ‘n opsie, ‘n vrye keuse. God word nie voor ‘n keuse gestel nie, Hy is in beheer van alle keuses. Hy het nie ‘n klompie Joodse kandidate gevra om aansoek te doen vir die pos van Messia en toe Maria se seun gekies nie. Hy het reeds aan die begin van ewigheid die enigste Een uitverkies wat hoop aan ‘n verlore wêreld kon bring. Christus het na hierdie wêreld gekom as die Een wat deur God gekies is. Beide by sy doop en tydens die verheerliking op die berg, verklaar God dat Jesus sy geliefde Seun is. God self het Jesus aangestel om sy dienaar te wees, die Een oor wie Hy Hom verheug.

Dit is baie duidelik dat Jesus na die wêreld gekom het om die Vader se wil te doen. Sy bediening is uitgevoer deur die krag van die Heilige Gees en die doel van sy bediening was om God se liefde, genade en geregtigheid met mense te deel. Op baie dieselfde manier word ons deur God geroep, aangestel en bekragtig deur sy Heilige Gees. Hy leef in ons en ons doel is ook om God te verheug en sy wil te doen. Ons is nie gekies tot ons eie voordeel of vir ons eie selfsugtige ambisies nie, ons is gekies om God te dien. Maak dit vandag, en elke dag, jou lewensdoel om in die krag van die Heilige Gees te leef, leef elke dag om God te verheerlik en sy genade met ander te deel.

Gebed: Hemelse Vader, help my om altyd u wil vir my lewe te soek sodat ek U met algehele toewyding kan dien. Vergewe my asseblief wanneer ek betrokke raak by dinge wat nie tot stigting van my geestelike lewe is nie en nie goed is vir my broers en susters in Christus nie. Amen

Bron : Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.