Gedagte vir die dag: Gekroon as koningskind

kruis2 Kron 23: 11 – Toe bring hulle die seun van die koning vorentoe en kroon hom en oorhandig aan hom die koninklike volmag.

“Is jy nie bekommerd oor jou dogters wat oorsee gaan werk nie?” Vra ek ʼn kollega. “Nee, ek besef daar kom ‘n tyd wanneer my kinders se opvoeding getoets sal word. Ek kan net vir hulle bid, dat hulle nou self die regte besluite sal neem en die regte keuses sal maak. Die verantwoordelikheid is nou hulle s’n. Ek het hulle al gewaarsku dat as hulle hier aankom met ‘n vreemde verskynsel en met hom wil trou, ek dadelik ja sal sê, want dit is hulle eie keuse.” En sy dogters het toe almal reg gekies! Prins Joas is as baba deur sy tante gered en sy en haar man, die priester Jojada, het hom grootgemaak. Die eerste ses jaar van sy lewe is hy in hierdie gelowige huisgesin deur die woord van die Here gevorm, en dit het sy lewe die regte rigting gegee. Op sesjarige ouderdom word hy as koning gekroon, en kry hy die vol mag om die volk te regeer. Dit was ‘n groot waagstuk, maar Jojada het vertroue gehad in die vormingsproses van hierdie koningskind. Hy het hom ook nog jare lank bygestaan en raad gegee. “My Pa is die Koning van die heelal, jy weet,” sing ons graag. En dit is waar. As jy ‘n kind van God is, is jy ‘n prins of prinses, al dink ander mense ook wat van jou. Jy moet soos ‘n koningskind optree. Ongelukkig is vandag se prinse nie juis goeie rolmodelle nie. Maar ons het ‘n Pa wat ons reg wil lei en raad gee. Die dag as jy tot algehele oorgawe aan Hom kom, kom woon Hy in jou (Joh 14:17, 19). Kom ons lewe as koningskinders, om ons Vader te verheerlik.

Gebed: “Here, U roep ons, ook om konings en priesters te wees. Help ons om so te lewe.”

Bron: Uit die Beek – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.