Gedagte vir die dag: Geloof, hoop en liefde

Wallpaper-Love-Nature-8-450x337.jpgEn nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde! (1 Kor 13:13)

Geloof, hoop en liefde – Paulus se prediking is deurspek met dié drie woorde. Dit kan ook nie anders nie. Die Christen se verhouding met God en sy naaste word met dié woorde saamgevat. En alhoewel ’n mens oor elkeen van die drie woorde boeke kan skryf, bly hulle ’n onlosmaaklike eenheid.

Geloof is die vertrekpunt. Sonder geloof kan daar geen sprake van Christelike hoop en liefde wees nie, want dit gaan oor geloof in die drie-enige God. Geloof is dus deel van jou geskiedenis as Christen. Jy kan getuig daarvan dat God op ’n heel besondere manier in jou lewe ingegryp het en dat jy sy genade in geloof aanvaar het. Geloof is die grondslag van jou lewe. Dis jou anker in tyd van nood. Dis jou waarborg teen die helse magte. Dis jou geboortesertifikaat as kind van God. Prys die Here!

En dan is daar hoop, ’n toekomswoord. ’n Mens hoop oor iets wat nog moet gebeur. Dis ’n droomwoord. Maar Christelike hoop is iets anders as die hoop waarvan die wêreld praat. Dis nie ’n skouerophalende hoop vir die beste nie. Dis ’n hoop op die vervulling van dit wat alreeds vas en seker is, my uiteindelike volkome verlossing by die wederkoms van die Here. Ek het dit reeds,  maar moet dit nog net in ontvangs neem. Liefde is die sleutelwoord. Dit is die woord wat in die teenwoordige tyd afspeel. Liefde is my manier van lewe van dag tot dag, gegrond in die geloof en onderweg na die vervulling van my hoop. Paulus noem dit die grootste omdat dit die hartklop van die evangelie is, dit is die polsende lewe wat van die opregtheid van die Christen se geloof en die sekerheid van sy hoop getuig.

Mag jou lewe vandag van geloof, hoop en liefde getuig.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anne-Marie Wessels ·

Ons kind was met dwelms deurmekaar. Vir so lank het ons gebid vir ‘n uitkoms maar menslike planne gemaak om dit te stop. Uitgelewer aan die duiwelse magte, het ons soos drenkelinge aan God vas gehou, geweet Hy het ‘n plan maar ons moes wag op God se tyd. En toe ons nie meer kon aangaan, lewensmoeg, gedreineer, gestroop van alles waarvan ‘n ouer droom wat ‘n tiener moet bereik, val alles in plek soos God dit beplan het. Ons moes vrede maak met die feit dat daar nie ‘n matriek, met al die lekker dinge soos matriekafskeid sou wees nie. Ons moes vrede in ons self kry dat dit ok is solank ons kind gesond word van die dwelms, dat Jesus die leisels sal neem, dat die geneesing van Sy kant kom. En toe die klimaks…….ons kind staan een oggend op en besluit hy is ‘n kind van God en hy gee sy hart vir Jesus. Hy loop en getuig van hoe God sy lewe handomkeer verander. Het blom vir Jesus. Ek kan vandag getuig dat ons vreugde en vrede in Jesus le. Dat Hy ons nooit sal los al is die storm hoe erg, Hy sal altyd en ewig vir ons daar wees. Maak nie saak wat gebeut

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.