Gedagte vir die dag: Geloof is ʼn werkwoord

praying-handsDaar kom toe mense wat ʼn verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ʼn opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. (Mark. 2:3-4).

Hierdie welwillende vriende wat hul verlamde medemens na Jesus toe dra, vind weldra uit dat daar ook ander hindernisse buiten hul vriend se verlamming is. Hul toegang na Jesus word versper deur ʼn menigte mense wat voor die deur van die huis saamdrom.

Ek en jy moet maar weet: Daar is dikwels menslike faktore wat ons toegang tot Jesus bemoeilik. Ons moet egter ook by hierdie vier vriende leer dat ware geloof nie sommer moed opgee nie. Geloof druk deur!

In daardie dae het die meeste huise plat dakke gehad, met balke redelik na aan mekaar. Dit was bedek met latte wat op hul beurt bedek was met ʼn dik laag modder of klei, wat met gekapte strooi gemeng was. Die huise ʼn buitetrap gehad en die inwoners het laatmiddag, wanneer die koel seewind begin waai het, op hul dakke gaan sit om af te koel.

Dit was dus nie moeilik om bo-op die dak te klim en ʼn gat in die dak te maak nie; ook nie om dit later te herstel nie. Alhoewel dit nie so moeilik was nie, was dit egter nie baie vriendelik nie! Dink daaraan – om sommer ʼn gat in die dak van ʼn ander man se huis te gaan kap! Hierdie mense was egter vasbeslote om hul doel te bereik: Hulle sou hul vriend by Jesus kry, kom wat wil!

Geloof is inderdaad ʼn werkwoord. Dit impliseer dikwels dat ons iets moet dóén!

Gebed: “Here, u Woord roep ook vir my op tot aksie. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

amanda ·

Ja here maak my geloof ook so sterk daardie vier vriende was vas besluit om hul verlamde vriend by Jesus te bring al moet hul die dak stukend maak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.