Gedagte vir die dag: Geloof kos niks, maar vra alles

Argieffoto (Foto: Neom/Unsplash)

“As jy My wil volg, moet jy alles wat vir jou belangrik is, laat staan. Stel dit tweede. So nie, bly dan weg! Ek moet die belangrikste van alles in jou lewe wees” (Lukas 14:27a).

Skrifgedeelte
Lukas 14:27a

Oordenking
Dit is maklik om te sê ons glo in God die Vader, die verlossing van ons Here Jesus en die Heilige Gees. Miljoene kerkgangers prewel dit Sondae. Ek en jy het dit ook al honderd maal bely. Die vraag is: Leef ons dit wat ons glo? Leef ons soos mense wat weet dat hulle ʼn Vader het wat altyd vir hulle sorg, dat hulle verlos is van al hul sonde en dat die Gees in hulle is? Of lyk ons ook maar dikwels net soos die ongelowige langs ons?

Liewe medegelowige, kom ons kniel in hierdie Advent-tyd weer met nuwe oorgawe voor die krip, die kruis en die graf. Kom ons bid dat die Gees ons sommer net weer van voor af sal vul met die hartswete dat ons Vader ons elkeen oneindig liefhet, dat ons duur gekoopte kinders is en dat ons nooit sonder Hom hoef te leef nie. Kom ons bely weer ons geloof in ons almagtige God met ʼn nuwe soort bewustheid van die feit dat Hy sy genade vir ons gratis gegee het, maar dat sy genade allermins goedkoop is.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.