Gedagte vir die dag: Geloof kweek entoesiasme

see_skulpe_vrou_hand_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: Efesiërs 6:5–8

(W)erk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen.  Doen julle werk entoesiasties asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie. (Efesiërs 6:6–7, NLV)

Ek lees êrens dat die begrip entoesiasme beteken ‘God in jou’.  ʼn Mens kan dus nie werklik entoesiasties wees oor die dinge van God as jy nie, soos ons kernteks sê, ‘met volle oorgawe’ in Hom glo nie.

Ongelukkig is dit nie ’n gegewe dat álle Christene ewe geesdriftig is nie. God het baie maal vir sy volk gesê dat hulle hulle eerste liefde vir Hom verloor het. In ons kernvers raai Paulus die slawe in Efese aan dat hulle God se wil met volle oorgawe moet doen, en dat hulle hulle werk entoesiasties moet doen, asof hulle dit vir God self doen. Net soos met hulle, is die eise wat die moderne lewe aan ons stel óók soms só hoog dat ons te moeg is om hoegenaamd entoesiasties te wees, of om genoeg tyd aan God af te staan.

Hoe entoesiasties is jy oor jóú geloof? ‘Moenie vir ’n enkele oomblik verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle met sy krag aan die brand steek, sodat julle voluit vir God kan leef. Dien die Here met groot oorgawe,’ skryf Paulus aan die Christene in Rome (Rom 12:11, Die Boodskap). Probeer dus om van nou af jou lewe vir God te leef en dit met groot entoesiasme te doen. God soek hierdie bruisende geesdrif by jou, sodat jy elke dag bereid sal wees om al jou take te verrig asof jy dit eksklusief vir Hóm doen.

Hemelse Vader, maak my meer entoesiasties oor my geloof; laat u Gees my inspireer, sodat ek U elke dag met groot passie sal dien.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.