Gedagte vir die dag: Geloof moet geleef word

1 Johannes 2:4, 6- Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.

Mense wat glo, behoort só te leef dat ander mense wat na hulle optrede kyk, baie goed sal kan sien dat hulle Christene is. As ons in Jesus se spore loop, vra dit van ons om te leef soos Hy geleef het; om dié dinge te doen wat Hy gedoen het.

As jy nie seker is hoe Jesus geleef het nie, kan jy weer ’n slag die vier Evangelies deeglik gaan lees. Terwyl Jesus op aarde was, was Hy gedurig besig om lief te hê, om ander te help, om siekes te genees, om honger mense kos te gee en moedelose mense moed in te praat. Hy was gewillig om te dien, om dié dinge te doen waarvan óns wegskram, om ander mense se voete te was. As jy erns wil maak met jou eie geloof, is dit soos jy jou geloof behoort uit te leef: jy moet Jesus sigbaar maak deur jou leefstyl, deur jou liefde vir ander prakties te demonstreer.

“God se liefde vir die mens het maksimum effek op die mens wanneer dit deur gehoorsame liefde beantwoord word … Dit gebeur wanneer God in jou belydenis en leefstyl al hoe meer sigbaar word,” skryf Die Bybellennium (p 2096). Is dit al waar van jou?

 Gebed: Here Jesus, maak dit asseblief vir my moontlik om só te leef soos U geleef het; om u liefde vir my met gehoorsame liefde te beantwoord; om ander mense onvoorwaardelik lief te hê en gewillig te wees om te dien. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.