Gedagte vir die dag: Genesende aanraking

kruisMark 1:41 – “Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak”.

Kan jy jou ʼn oomblik lank hierdie toneel van 2 000 jaar gelede voorstel? Jesus steek sy hand uit en raak ʼn onrein, melaatse man aan; Hy deurbreek die grense van skeiding en verwerping; Hy vereenselwig Hom met hierdie man en sy smart. Hoe belangrik is deernisvolle, liefdevolle aanraking nie!

Martha Korwin, ʼn befaamde konsertpianiste wat tydens die Tweede Wêreldoorlog vrywillige diens in ʼn hospitaal in Europa gedoen het, vertel die volgende verhaal: Terwyl sy laat een nag in die hospitaal verby kamers en sale loop waar gewonde soldate gelê het, hoor sy die gedempte snikke van ʼn jong soldaat wie se pyn nie deur die medikasie verdoof kon word nie. Toe sy in die saal kom, kry sy hom waar hy met sy gesig in die kussing gedruk lê om só sy kreune en trane te probeer smoor – ʼn jong man, ernstig gewond, in pyn, alleen, ver van vriende en familie.

’n Oomblik lank het sy daar langs sy bed gestaan en wonder wat sy nog vir hom kon doen buiten al die mediese hulp wat hy reeds ontvang het. Toe kyk sy in die skemerdonkerte van die saal na haar hande en sê vir haarself: “As hierdie hande deur die klawers van ʼn klavier harmonie en vrede aan mense kan oordra, kan hulle nie dieselfde doen as hulle hierdie jong man regstreeks sou aanraak nie?”

Sy het sy koorsige gesig saggies tussen haar hande vasgehou en saggies vir hom gebid. Enkele oomblikke lank het sy vingernaels in haar vlees gedruk toe hy haar hande vasgegryp en vasgehou het. Toe het sy gefolterde liggaam stil geraak en kon sy aan sy asemhaling hoor dat hy in ʼn diep slaap verval het.

Daar is inderdaad ʼn stuk genesing in opregte, liefdevolle aanraking. Dit gaan dieper as die vel.

Gebed: “Dankie vir u aanraking, Here. Gebruik my om U hande in hierdie wêreld te wees. Amen.”

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.