Gedagte vir die dag: Genesing alleen is nie genoeg nie

Mark 5:30: “Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: ‘Wie het aan my klere geraak?’” (Mark 5:30).

Hierdie vrou wat jare lank aan hierdie uitmergelende siekte gely het, wou weens haar onreinheid so ongemerk moontlik haar genesing as’t ware by Jesus “steel”. Só werk dit egter nie by Jesus nie. Hy wil vir mense veel meer doen as om bloot hulle siek liggame gesond te maak. Hy het geweet hierdie vrou het ná twaalf jaar van lyding en verwerping méér as net liggaamlike genesing nodig gehad. Sy het ook geestelike genesing nodig gehad. Wat sou dit haar in elk geval baat as sy daar sou wegstap met bloot ’n gesonde liggaam? Al verskil sou wees dat sy nou met ’n gesonde liggaam, in plaas van ’n siek liggaam, op pad was hel toe. Nee, Jesus wou haar as volkome mens, liggaam, siel en gees, gesond maak en red.

Dit is opmerklik dat die oomblik toe sy gesond geword het, Jesus opgemerk het dat daar krag van Hom uitgegaan het. Wat die vrou ontvang het, het direk van Hom af gekom. Haar genesing het Hom iets gekos. Daar het iets van sy Goddelike krag en heelheid na haar gevloei. Dit is ten diepste wat ook aan die kruis van Golgota gebeur het. Dáár het Jesus sy lewe gegee sodat óns lewe en oorvloed kan ontvang. Volgens Jesaja het sý wonde vir ons genesing gebring. Ons verlossing, ons genesing, het Hom iets gekos – sy lewe!

En Jesus vra: “Wie het aan my klere geraak?” Hy wou nie hê hierdie vrou moes anoniem van Hom af weggaan nie. Haar genesing sou eers volle betekenis kry as sy ook die Geneesheer ontmoet, want hierdie Geneesheer is meer as die genesing, hierdie Gewer meer as die gawes, hierdie God meer as die goeie wat Hy gee.

Gebed: Dit is vir Ú wat ek soek, Here. Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger: President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.