Gedagte vir die dag: Geseënde hongeriges

Argieffoto (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

“Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Matthéüs 5:6).

Skrifgedeelte
Matthéüs 5

Oordenking

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.” Ek ken mense wat altyd honger is. Alewig besig om iets te ete te soek of te maak. Aan die gang-mense. Dikwels nogal haastige mense. Haastig om dinge te doen of te sê. Te reageer. Die vraag is egter of ons besig is met die regte dinge. Soek ons die dinge wat jou honger regtig kan stil? Jesus seën diegene wat honger is na die regte dinge. Honger vir wat reg en goed is. Hy het ons immers geleer om die koninkryk eerste te soek (Matt. 6:33). As ʼn mens besig raak met die regte dinge, dan word jy ook regtig daarvan vol. Kos moet jy weer en weer eet, byna asof jy nooit genoeg kry nie. Die regte dinge of “die geregtigheid” is iets wat jou waarlik vol maak. Tog maak dit jou ook elke keer weer lus om nog verder na die geregtigheid van God te soek en te begeer. Jesus is immers self ons geregtigheid. Hy het die verhouding tussen ons en ons God kom heelmaak. Hy het mens geword en honger en dors gely, soos ons, om ons juis in die regte verhouding met God te plaas. Soek jy dus die geregtigheid van God, dan is jy honger vir kennis van Jesus Christus en vir sy Woord wat jou hierdie kennis kan bybring. Dan raak jy nie haastig om op mense te reageer nie, maar wel op God en sy Woord. Te reageer met bekering en met nog groter ywer en lus en ’n “honger” na sy Woord en sy gebooie. En dan eers word jy werklik gelukkig of geseënd. Hoe honger is jy na die geregtigheid?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.