Gedagte vir die dag: In gesprek met God

Psalm 64:1 (Bybel vir Almal)
O God, U moet luister, ek vra dat U my moet help!

So dikwels tree ons net in gesprek met God wanneer ons in die moeilikheid is of baie bekommerd is. Dit is nie altyd maklik om deur gebed met God te praat nie.

Selfs die dissipels het Jesus gevra om hulle te leer hoe om te bid. Die eerste ding wat Hy hulle toe leer is om die Almagtige God en Skepper as Vader aan te spreek – hulle Vader.

As deel van God se familie is dit ook ons voorreg. Hy is ons Vader.

As ‘n kind van God staan dit jou vry om openlik met Hom te praat, enige plek en enige tyd. Maar dit is makliker gesê as gedaan. Dikwels word ons gebedslewe lukraak gereël om ons leefstyl te pas, eerder as anders om.

In sy boek, More Prayers for the Plain Man, vertel William Barclay van die voormalige Biskop van Norwich, Bertrand Pollock. Hierdie godvresende man het, soos Daniël van ouds, elke dag op drie vasgestelde tye gebid. (Daniël 6:11)

Op ‘n keer het ‘n belangrike besoeker sonder ‘n afspraak by die biskop opgedaag net toe hy met sy gebedstyd wou begin. Die biskop het sy assistent opdrag gegee om die besoeker te vra om te wag: “Verduidelik asseblief vir hom dat ek ‘n afspraak met God het.”

Ons behoort almal ons vaste afsprake met God te hê.

Maar wat nou as ons gedurende ons gebedstyd so bekommerd en gespanne is dat ons nie ‘n woord kan uitkry nie en nie kan bid nie? Soms kan ‘n mens nie jou gedagtes in woorde omsit nie al probeer jy ook hoe hard. Die woorde wil net nie kom nie en jy weet nie hoe om te bid nie.

Wanneer dit gebeur, sê die Bybel, staan die Gees ons in ons swakheid by. Die Gees self pleit vir ons en God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is. (Romeine 8:26-27)

Wat ‘n kosbare voorreg om deel te wees van God se familie. Kom ons vra die Here vir ‘n gedissiplineerde gebedslewe, dat ons gereeld met God in gesprek sal wees en dat gebed inderdaad deel van ons daaglikse roetine sal wees.

Gebed: Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om wanneer ons bid na u stem te kan luister en met U te kan praat soos ‘n kind met sy vader. In die Naam van Jesus. Amen.

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.