Gedagte vir die dag: Gevaarlike begeertes

Eksodus 20:17Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.

Ideale en drome is deel van die lewe. Dit gaan daaroor om dinge te kry wat jy (nog) nie het nie, of om te word wat jy (nog) nie is nie. Dis ’n lewensbelangrike oefening. Daarsonder sal mens stagneer. Daarsonder is die lewe vaal en saai. Drome hou die vlammetjie aan die brand sodat jy bly groei en ontwikkel.

Die gevaarligte begin egter flikker wanneer drome só oorheersend raak dat dit begeertes word wat ten alle koste bevredig móét word. Dan begin mense steel, moor, egbreuk pleeg, lieg om te kry wat hulle wil hê.

Dis waaroor hierdie gebod gaan: om iets of iemand te wil hê wat reeds aan ’n ander behoort. In ons kompetisiegedrewe samelewing wil mense soveel moontlik inpalm om nie af te steek by hulle vriende en familie nie. Hierdie ingesteldheid het al menige mens se ondergang beteken. Want begeertes begin by ʼn gedagte en wanneer dit die regte teelaarde vind, word dit ʼn obsessie wat lei tot ’n daad wat uiteindelik kan  oorgaan in ʼn gewoonte en lewenswyse.

Gegewe die manier waarop bemarking op verskillende terreine beplan en gedoen word, word juis hierdie inherente drang na meer en beter misbruik. Kyk maar waar word die lekker goed (lekkergoed) in ’n supermark uitgestal? By die kasregisters. Daar waar mens staan en wag om te betaal. Dan dwaal jou oog en jy oortuig jouself dat jy dit wil hê. Advertensies is so ontwerp dat jy so meegesleur word, dat jy uiteindelik baie goed aankoop wat jy nie regtig nodig het nie.

Dieselfde beginsel geld ten opsigte van baie ander dinge. Waar begin ontrouheid in die huwelik? Deur rond te kyk en jouself te oortuig dat jy die reg het om iemand anders se maat af te rokkel. Hoekom steel mense? Omdat hulle sien en begin begeer en uiteindelik wil toeëien wat hulle nie toekom nie.

Die Here gun vir jou ’n wonderlike lewe waarin jy alles kan geniet wat jy tot jou beskikking het. Waardeer dit, en gun ander dieselfde voorreg.

Gebed: Here, baie dankie vir wat ek het. Maak my tevrede daarmee. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-‘n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

Die Here was tot dusver goed vir ons vêr bo wat ons menslikerwys enigsins kon verdien en kan ek maar net bid dat God my sal bekskerm dat ek nie sal begin begeer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.