Gedagte vir die dag: God gee hoop en verwagting

Psalm 65:11,12 – U maak die aarde nat. Die harde grond word alles gou-gou sag na die reën wat U gee. Alles wat in die grond geplant word, groei vinnig. Omdat U vir ons goed is, gee U vir die boere die beste oeste wat ʼn mens kan kry. Oral waar U ingryp, is daar meer as genoeg om van te leef.

Ons liewe wêreld is propvol doemprofete. Hulle is altyd negatief en verwag altyd die ergste. Dan het hulle nog die nare gewoonte om nadat ʼn slegte ding gebeur het vir jou iets te sê in die lyn van: “Ek het jou mos gesê.” Woorde ontbreek om vir jou te vertel met watter passie ek sulke mense in my lewe probeer vermy. ʼn Mens kies mos nie vir besoedeling in jou lewe nie. Dit is ʼn keuse in die lewe om die hele tyd of net probleme te sien, of geleenthede. Verseker is daar uitdagings en verseker is daar foute in die samelewing. Dit help nie om in ontkenning daaroor te gaan nie. Dit help egter nog minder om net die hele tyd negatief te wees en op die negatiewe te fokus. God gee reën in die droogte. Vir God is die onmoontlike moontlik. God gee bonatuurlike krag en energie en doen vandag nog wonderwerke. Hy is die Een wat gehoorsaamheid buitegewoon seën. As God ingryp, gebeur groot en wonderlike dinge. Dis tyd dat God se kinders in ons land met ʼn positiewe ingesteldheid begin leef met die oog op Jesus.
ʼn Gemiddelde mens kan sowat 40 dae sonder kos bly, drie dae sonder water. Agt minute sonder suurstof, maar sonder hoop, nie eers een sekonde nie. – AW Tozer
Gebed: Here, dankie dat U leef, Dankie dat U hoop gee. Dankie dat U vandag nog ingryp en wonderwerke doen.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir inspirerende gedagte – wonderlik om te weet dat die Bybelse hoop wêrelde verskil van die aardse hoop: dit sluit geloof in, wat ‘n gans ander dimensie daaraan gee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.