Gedagte vir die dag: God gee jou diep geluk en blydskap

Psalm 16:11 – U sal my leer om reg te lewe. Daar is niks wat iemand groter blydskap kan gee as om saam met U te wees nie. U gee altyd vir U kinders die heel beste. Hulle kry die heel mooiste wat die lewe aanbied by U.

Daar is soveel plekke om te besoek, soveel produkte om te koop en soveel dinge wat ʼn mens vandag kan doen om gelukkig te wees. Die hele advertensiebedryf is daarop ingestel om jou bekend te stel aan produkte en ervarings waarsonder jy, volgens hulle, doodgewoon nie kan klaarkom nie. Loop jy dit mis, loop jy vreugde en sommer die lewe selfs mis. Soveel mense gaan dan ook op ʼn “reis” na geluk. Dan probeer hulle dit, dan doen hulle dat… en kom agter hulle het steeds nie geluk gevind nie. Dan is dit die foefie en dan is dit daardie avontuur net om agter te kom hulle is steeds … soekend. Steeds is daar ʼn leegte en diep soeke in hulle. Wat ʼn mors van tyd en energie. Om die lewe saam met God te doen is absoluut ʼn diep geluk en vreugde wat jy moeilik vir iemand kan beskryf. Om Hom deel te maak van jou lewe en Hom in alles te ken is doodgewoon priceless. Dit is die geheim van ʼn lewe van vertroue en om sorgvry en kommervry te kan leef. Hy is die Pottebakker met oë van deernis en sagte hande. Is jy bereid om jou werklik oor te gee en die klei te wees in sy hande?

Gebed: Here, dankie dat ek werklik kommervry deur die lewe kan gaan omdat U wonderlik is vir U kinders sorg. Dankie vir ʼn diep blydskap omdat U my Vader is.

Sedert ek Jesus Christus ontmoet het, voel dit vir my of ek sonskyn gesluk het. – JK Gresset

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.