Gedagte vir die dag: God gee rus

Boekevat-Wortelgat-Berg-ABrits.jpgEk het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. (Ps 131:2)

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. (Matt 11:28-30)

Om rus te vind – dit bly die versugting van die mens wie se woelige gees so onrustig kan raak. Augustinus het gesê dat die mens nooit werklik rus sal vind indien hy dit nie by God vind nie. Die mens bly ’n soeker totdat hy sy bestemming by God gevind het. Maar ook hulle wat God gevind het, raak nog steeds rusteloos. Ons leef in ’n wêreld wat ons moeg maak, wat ons kragte tap en wat ons gees uitput. Ons raak afgetakel na liggaam en gees. En dan soek ons opnuut rus by God.

Psalm 131 is vir my een van die mooiste gerusstellende teksgedeeltes. Die digter was onrustig. Dit was onverstaanbare dinge, dinge wat vir sy begripsvermoë net te groot was, wat hom onrustig gemaak het. Toe het hy besluit om hom nie met die goed wat bo sy vermoë is moeg te maak nie. Hy het na God gedraai en by Hom rus en tevredenheid gevind. Soos ’n suigeling aan die bors van sy moeder het hy by God tevredenheid gevind. Hy het rus gevind in volkome oorgawe aan sy God.

In die Nuwe Testament bied Jesus vir mense wat moeg en oorlaai is, rus aan. Jesus het mense geken. Hy het geweet dat die sorge van die lewe ’n mens kan neerdruk. En Hy nooi ons uit om die las vir Hom te gee. By Hom is daar rus, volkome gemoedsrus.

Dankie, Here, dat ek by U volkome rus en tevredenheid kan vind.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.