Gedagte vir die dag:  God gee wysheid

Boekevat - Perd in veldGod het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is. (1 Kon 4:29)

“Die doel van wysheid is om te kan onderskei tussen wat reg is en wat verkeerd is,” het Cicero gesê. Wysheid is iets anders as blote kennis. Dit gaan oor die regte toepassing van kennis, volgens die omstandighede. Kennis wat nie reg gebruik word nie, of vir die regte doeleindes gebruik word nie, is eintlik dwaasheid.

“Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig” (Spr. 2:6). Hier leer ons ‘n belangrike feit. Die ware wysheid kom van God af. Salomo het dit geweet, en daarom het hy God gevra vir die nodige wysheid om sy groot ryk te regeer. Enige regering wat God se leiding verwerp, kan verwag om dom besluite te neem. Die slegte vrugte van sulke besluite sal gou genoeg sigbaar word. Ouers het ook wysheid nodig om hulle kinders reg te lei, en om hulle huwelik gesond te hou. Elke werker en elke bestuurder het wysheid nodig om die regte besluite te neem en die sukses van die onderneming te verseker.

Waar kry ons God se soort wysheid? Jakobus help ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jak 1:5). Ons gaan vir baie dinge bid; laat ons nie vergeet om ook vir wysheid te bid nie. Nie net vir onsself nie, maar ook vir ons leraar en kerkraad, vir ons plaaslike en sentrale regeerders, en vir elkeen wat besluite moet neem. God wil ons hierin lei. Wees net gewillig om sy wil te doen.

Gebed: “Here, ek het u soort wysheid nodig. Gee dit elke dag vir my.”

Bron:  Uit die Beek, 2012 – Attie van Wijk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.