Gedagte vir die dag: God help jou altyd

Psalm 6:4, 10,11 – Ek is lam en moedeloos. Wat gaan U hieraan doen, Here? Hoe lank gaan dit nog so aanhou? Die Here het gehoor toe ek huilend by Hom pleit. Hy aanvaar my gebed. Daarom help Hy my.

Daar is baie dinge in die lewe wat ʼn mens kan verlam. Dink maar aan iemand wat in vrees leef of iemand wat angstig is. Ja, dit het die vermoë om jou te verlam. Moedeloosheid is ook een van daardie dinge wat jou emosioneel in ʼn rolstoel kan sit. Moedeloosheid tap jou energie, dit maak jou negatief en beïnvloed alles en almal om jou. Dit laat jou pessimisties en neerslagtig lyk en maak dat mense eerder op ʼn afstand van jou wil bly. Is dit nie dalk tyd dat jy net ʼn bietjie moet briek aandraai, tot stilstand moet kom en rustig by die Here moet gaan sit nie? In jou moedelose tye is die beste ding wat jy kan doen om rustig by die Here te gaan sit en jou hart uit te praat. Dink aan God se karakter en wie Hy werklik is. Ja, haal vir ʼn oomblik jou oë van jou omstandighede af en kyk God “in die oë”. Hy is daar vir jou in die moedelose tye. Hy is daar wanneer jy voel jy kan nie meer nie.

Gebed: Here, dankie dat ek na U kan draai in my moedelose tye. Dankie dat U altyd daar is, altyd bereid om te luister en dat U vir my nuwe hoop sal gee.

Een van die basiese beginsels van die Christelike geloof is dat God nooit moed verloor nie, en daarom behoort ons dit ook nie te doen nie. – John C Maxwell

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.