Gedagte vir die dag: God het emosies

Teks: Luk. 7: 13: “Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry.”

Wat ʼn wonderlike God, wat ʼn wonderlike mens, wat so voel oor ʼn onbekende, treurende weduwee! As jy ooit gewonder het of God emosies kan ervaar, moet jy dit vandag sonder twyfel wéét.

Die feit dat God nie vlees en bloed is nie, beteken nie dat Hy nie emosies het nie. God is ʼn persoon, nie ʼn onpersoonlike, ongevoelige, emosielose wese nie. Ons lees in beide Ou- en Nuwe Testament dat God Drie-enig – die Vader, die Seun en die Heilige Gees, emosies ervaar. Weliswaar is al Sy emosies heilig en nie soos by ons dikwels onheilig nie.

In die tyd van Jesus, waar die Griekse kultuur nog sterk die toon aan gegee het, was die een hoofgroepering die Stoïsyne genoem. ʼn Kenmerk van die Stoïsyne was dat hulle so min as moontlik emosies getoon het. Emosies was vir hulle ʼn teken van swakheid. Iets van hierdie mentaliteit het in die Weste oorgebly – veral by die manlike geslag waar ons soms ons seuntjies leer dat “ʼn man nie huil nie.” Die begrip “Stoïsyns” is ook bekend in ons taal, menende iemand wat baie gelykmatig en onversteurbaar is en nie veel emosie toon nie.

Die Stoïsyne in daardie tyd, het as deel van die Griekse kultuur natuurlik aan veelgodedom geglo, maar vir hulle was die gode iets abstraks, ʼn idee – beslis nie ʼn persoonlike wese wat enige emosie toon nie. Volgens hulle siening was “goddelik” juis die hoogtepunt van “emosieloosheid”, want emosie is mos ʼn teken van swakheid, menslikheid en dit pas nie by ʼn god nie!

Jy sou jouself kan voorstel wat hulle sou dink van ʼn God wat huil by ʼn graf en wat ʼn weduwee innig jammer kry!

Gebed: Dankie Here dat U nie ‘n emosielose God is nie, maar met my meevoel in tye van smart en pyn! Amen.

Outeur: Dr. Isak Burger:  President van AGS van SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.