Gedagte vir die dag: God het jou lief – vandag, môre, altyd

(Foto: Michel Paz/Unsplash.)

“Berge kan verskuif word en heuwels kan verdwyn, maar my liefde vir jou sal nooit ophou nie. My ooreenkoms van vrede met jou sal nooit tot ʼn einde kom nie. Dit is wat die Here sê wat soveel vir jou omgee” (Jesaja 54:10).

Skrifgedeelte
Jesaja 54:10

Oordenking
Ek hoop dat jy gedurende die jaar iets van God se sorg vir en trou aan jou beleef het, dat jy dit kon regkry om wonderlike stiltetye saam met Hom te geniet, en dat iets van sy groot wysheid en waarheid in jou hart ingevloei het. Die heel belangrikste: ek bid dat jy in dié jaar beleef het dat God jou oneindig liefhet en daarom elke dag saam met jou wil lééf.

Wanneer jy nou die laaste paar uur van hierdie jaar ingaan en die nuwe jaar nou betree, glo ek dat jou hart vol dankbaarheid oor baie dinge is, maar dat jy ook al so ʼn skrefie van jou hart se deur na volgende jaar oopgemaak het. Dalk sien jy met groot verwagting uit na die uitdagings van die nuwe jaar, maar miskien is daar tog ʼn mate van onsekerheid – selfs vrees – oor die toekoms. Vind dan jou vrede in dié wete dat baie dinge kan verander, maar God nie. Dat mense jou kan seermaak, maar dat Hy sal troos. Dat planne kan skeefloop, maar dat Hy weer die weg sal wys. Dat ander jou kan verwerp, maar dat Hy jou altyd sal liefhê.

  • Hierdie oordenking verskyn in Net soos jy is deur Milanie Vosloo. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.