Gedagte vir die dag: God hoor elke gebed van jou

gebedPsalm 106:44 – Maar God het gesien hoe swaar hulle kry, Hy het geluister as hulle Hom smeek om hulle te kom help.

Dit is soms baie snaaks om in ʼn geselskap te sit en te sien iemand gesels aanmekaar terwyl mense later glad nie meer na die persoon luister nie. Dis egter nie baie snaaks as jy die een is wat met iemand gesels net om later agter te kom daardie persoon registreer niks en het lankal afgeskakel van die gesprek met jou. Vir baie mense voel dit ook baie keer as hulle met die Here praat asof Hy nie hoor nie. Dit voel asof hulle gebede in die dak vasslaan. Baie mense het ook ʼn stryd oor wat hulle met die Here mag deel en hoe hulle dit met die Here moet deel. Jy is God se kind. Ek weet nie van jou kinders nie, maar my kinders babbel oor die jare gereeld oor enige iets met my. Hulle borrel en loop oor en kan nie vinnig genoeg oor enige iets gesels nie. Elke kind doen dit op sy/haar manier sonder reëls en regulasies. God nooi my en jou om enige tyd oor enige iets op enige plek met vrymoedigheid met Hom te gesels. Hy is jou Pa en jy is sy kind. Daarom, neem die vrymoedigheid en praat met God. God luister as jy met Hom praat. Praat met Hom as jy bly is of as jy hartseer is. Hy luister graag.

As die lewe jou voete onder jou uitloop, is dit tyd om om jou knieë te staan. – Frederick Beck

Gebed: Here, dankie dat U elke woord van my hoor. Dankie dat ek met die grootste vrymoedigheid tot U kan nader en met U oor enige iets kan praat.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.