Gedagte vir die dag: God hoor jou en buig af na jou

Psalm 40:2,3 – Ek het lank gewag dat die Here my sou help, en dit het toe gebeur. Hy het na my toe afgebuig. Ek het nie teen die dak vasgebid nie. Hy het my gehoor. Toe ek ernstig hulp gevra het, het die Here my gehelp. Hy het gekeer dat ek doodgaan. Hy het my uit die dood opgetel. Dit was of ek in modder weggesak het. Nou is my lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk. Hy het weer nuwe blydskap in my lewe gegee.

Dit is vir my altyd baie erg om op TV te sien hoe dit lyk nadat een of ander natuurramp iewers gebeur het. Ná ʼn aardbewing is reddingspanne gewoonlik besig om onder die puin van geboue na oorlewendes te soek. Die hele wêreld raak verskriklik opgewonde as daar ná twee of drie dae iemand gehoor word as gevolg van die kap van ʼn klip of benoude geroep en op dié manier gered word. So iets gryp die hele wêreld aan en het almal, ook vir my, in vervoering.

Dis iets hiervan wat ek lees in Psalm 40. Die mens is verlore. Die mens is benoud en beangs. Ons roep tot God en Hy hoor. Hy reageer deur af te buig na ons toe. Ja, Hy sê nie: “Kom na My toe” nie. Nee, Hy kom na ons toe. Hy is die Een wat na jou uitreik en na jou luister – in jou verlorenheid en benoudheid.

God buig af na ons in ons verlorenheid en kom plant ʼn kruis op die aarde. Hy die Skepper van die groot heelal het die mense so lief dat Hy aarde toe kom en sy geliefde Seun vir my en jou kom gee. Hy kom ly en sterf sodat ek en jy kan leef. Ook in jou dae van verwardheid, benoudheid en moedeloosheid kan jy weet Hy hoor en buig af na jou wanneer jy roep. Hy is Immanuel, die Een wat altyd by jou is.

Gebed: Here, dankie dat U Jesus aarde toe gestuur het om my in my verlorenheid te ontmoet. Dankie dat U my elke dag hoor en by my is.

Moenie aan jou hoop vashou nie, maar hou vas aan Christus, die Bron van ons hoop. Charles H Spurgeon

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.