Gedagte vir die dag: God is altyd daar om jou te help

Psalm 54:6 – Gelukkig help God my altyd! Die Here hou my lewe in sy hand vas.

Kom ons wees eerlik: Soms voel dit vir ons of die Here ons vergeet het. Soms voel dit asof ons die Here net bietjie raad kan gee. Gereeld voel dit of die Here so ʼn bietjie laat is. Gereeld voel dit asof Hy nie ons gebede hoor nie. Wel, dit is net ons gevoelens, wat baie bedrieglik kan wees en volkome afhang van ons omstandighede. Dit is gevaarlik! Die waarheid oor God is dat Hy volkome in beheer is. Jou lewe – die fynste detail daarvan – is onder sy beheer. Hy is die Pottebakker wat dag na dag sy klei vorm en vou in die mooiste eindproduk. Hy doen dit met die grootste deernis en sagmoedigheid. Jy kan maar weet dat die Here jou lewe in sy hand vashou. Niks kan jou uit sy hand ruk nie – geen mens en geen omstandighede nie, niks nie! God is altyd daar om jou te help. Mense kan jou teleurstel en het dit tien teen een al baie gedoen. God is egter getrou en Hy kan Homself nie verloën nie. Jy is sy kosbare kind wat Hy nooit sal alleen laat of in die steek sal laat nie. God help altyd en Hy hou jou lewe altyd in sy hand.

God se liefde vir ons is nie ʼn liefde wat ons van swaarkry vrywaar nie, maar eerder ʼn liefde wat ons deur die swaarkry dra. – Anoniem

Gebed: Dankie, Here! Wat ʼn troos en wonderlike sekerheid: My lewe is in u hand en U help my altyd.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.