Gedagte vir die dag: God is die enigste God

Psalm 135:5 – Dit staan soos ʼn paal bo water: die Here is ʼn groot God, groter as alle ander gode.

Baie keer hoor ʼn mens van plante of diere wat besig is om uit te sterf. Die renoster is ʼn goeie voorbeeld daarvan. Gereeld hoor ʼn mens statistiek van hoeveel renosters daar ʼn klompie jaar gelede was en vandag is slegs ʼn klein persentasie daarvan oor. Dit is die geval met baie soorte diere en plante. Ek is egter nie bewus van enige soort plant of dier waarvan daar net een is nie. Met God, die Vader van Jesus, is dit egter wel die geval. Hy is die enigste God. Daar is niemand soos Hy nie. Hy is alleen die Almagtige. Hy alleen vergewe sondes. Hy alleen is volmaak liefde. Hy alleen is die Een wat sy Seun gestuur het vir die verlossing en vrymaking van mense. Daar is niemand soos Hy nie. Hy is die enigste ware God. Ja, Hy is God. Daar is vele godsdienste in die wêreld met vele gode wat aanbid word. Dink maar aan die Boeddhabeelde en die verskillende dooie beelde wat die Hindoes aanbid. Ons God, die Vader van Jesus Christus, is egter die enigste ware God. ʼn Verhouding met Hom vorm die middelpunt van die Christelike godsdiens. Om Hom te ken oortref alles in waarde. Is jy in ʼn verhouding met die enigste lewende God?

Met watter volkome gerustheid kan ons tog onsself toevertrou in die hande van Hom wat die heelal in stand hou. – Paul Friederich Richter

Gebed: Here, ek eer U as die enigste ware en lewende God. Dankie dat U Jesus gestuur het sodat ek U my Vader kan noem.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.