Gedagte vir die dag: God is die Skepper-God

Foto: naturespicwallpaper.com

Foto: naturespicwallpaper.com

Psalm 104:2,3 – Oral rondom U is lig; dit is amper soos iemand wat pragtige klere aantrek. Dis mooi om na te kyk. U het die blou hemel soos ʼn tent bokant die aarde opgeslaan. U bly daar! U ry op die wolke en die wind.

Ek kan in vervoering raak oor die skepping. Daar is vir my niks mooier as die see nie. Ek kan letterlik ure en ure op die rotse by die see sit en my net vergaap en verwonder aan die branders wat een vir een teen die rotse breek. Dit is vir my groot en daarin sien ek iets van God se almag. Of ek kan ure en ure in die Bosveld oor berge en vlaktes uitkyk of in ʼn Bosveldvuurtjie staar terwyl ek bewus is van God se teenwoordigheid en grootheid. Soms is selfs die blou lug ʼn prentjie om na te kyk, of die verskillende vorms wat die wolke aanneem. ʼn Reënboog met sy helder kleure is ook wonderlik om na te kyk. Daar is geen mooier skildery of kunswerk as God se skepping nie. Daar is geen beter Kunstenaar as God self nie. Wat Hy gemaak het, is net so mooi en Hy stel my en jou aan as sy verteenwoordigers om dit te geniet en mooi op te pas. Hierdie Kunstenaar het jou versigtig en sorgvuldig stukkie vir stukkie en met ʼn volmaakte plan aanmekaargeweef. Jy is en bly sy mees fenomenale kunswerk. Hierdie skepper-God is jou Vader. Hierdie Skepper-God is die Een wat jou beplan en gemaak het. Loof Hom as die Skepper God.

God se wese is so onbegryplik groot dat ons sintuie nie ten volle sy majesteit kan waarneem nie. – Johannes Calvyn

Gebed: Here, ek eer U en aanbid U as die Skepper-God. Dankie dat ek u verteenwoordiger op aarde is. Dankie vir u pragtige skepping.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.