Gedagte vir die dag: God is jou Vader

Foto: radicalparenting.com

Foto: radicalparenting.com

Psalm 103:13 – Net soos ouers hulle kinders met groot liefde versorg, so versorg die Here elkeen wat Hom dien met arms vol liefde.

Die Here het so baie Name omdat Hy so ʼn wye en diep karakter het. Hy is onder ander die Skepper van die hemel en die aarde en Hy hou alles in stand. Hy is die Geneser, die Een wat gesond maak. Hy is die Almagtige wat oor die heelal heers. Vir my persoonlik is die intiemste Naam van God egter Vader veral die feit dat hy my Vader is. Jesus spreek Hom in die Tuin van Getsemane aan as Abba Vader, wat beteken Pappa God. Dit is presies dit wat God graag vir elke mens wil wees. Dit is hoekom God Jesus aarde toe gestuur het. Die sondeval het verwoestingswerk kom doen. Dit het God se volmaakte Pa-kind-verhouding met die mense kom verwoes. Jesus kom herstel dit. Hy kom aarde toe sodat elkeen wat in Hom glo, kan uitroep: “Abba Vader.” Elkeen wat Jesus as Verlosser en Saligmaker aanvaar se verhouding met God is herstel en kan God aanspreek as Abba Vader. Ja, aardse ouers maak droog. Aardse ouers verwaarloos baie keer hulle kinders en tree nie altyd uit genade en liefde op nie. Daarom sukkel so baie mense om God se Vaderhart vir hulle te verstaan en om Hom te ken as Vader. God wag vir jou met arms vol liefde. Hy wil graag ook jou Abba Vader wees.

Hoe lief jy ook al vir God is, jy kan verseker wees dat Hy jou oneindig liewer het. – Meister Eckhart

Gebed: Here, dankie vir u arms vol liefde. Dankie dat U my volmaakte Vader is. Ek roep uit na U: Dankie, Abba Vader!

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.