Gedagte vir die dag: God is ʼn Vader vir die swakkes

Psalm 68:6 – God is ʼn Vader vir swak mense, vir kinders wat nie ouers het nie. Hy staan aan die kant van hulpelose weduwees. Hy beskerm hulle. Daar uit sy hemelse woning wat eenkant is, steek God sy hand uit na die swak mense.

My eie kinders beskaam my, maar ek bedoel dit glad nie negatief nie. Hulle is ʼn wonderlike voorbeeld van jongmense wat omgee vir weeskinders, en daarom bou hulle huise waarin vigs-wesies onder pleegsorg geplaas word. Baie van die wesies woon nou vir die eerste keer in ʼn huis van stene en sement. Terwyl ek hier skryf, is my kinders besig om huise 14 en 15 te bou. Weeskinders, weduwees en vele ander mense met ander probleme kry baie swaar. As gevolg van baie moeilike omstandighede is hulle baie swak. Die psalm en baie ander dele in die Bybel maak dit duidelik dat God sy hand uitsteek na hierdie swak mense. Hy het beslis deernis met hulle en gee baie om vir hulle. Hy is die Vader wat baie van hulle nooit geken of nooit gehad het nie. Ek en jy moet by God se plan en hart inval en ʼn verlengstuk van sy hart en hande word na hierdie mense toe. Ons moet deur ons omgee en optrede vir hulle wys daar is ʼn Vader wat sorg, ʼn Vader wat liefhet en omgee.

Swaarkry is die een universiteit waartoe ons almal toegelaat word. Ons betaal wel hoë klasgeld, maar die graad wat ons behaal – in geduld- en lewenservaring – is van onskatbare waarde.
– Clarence Thomas

Gebed: Here, gee my meer van U hart vir die swakkes tussen en om ons. Ek kies om geleenthede te soek waar ek ʼn verlengstuk van u hart en hande na hierdie mense kan wees.

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.