Gedagte vir die dag: God is jou hoop

Psalm 25:2,3 – My God, op U vertrou ek. Moet my tog nie in die steek laat nie. Moenie dat hulle wat U verwerp, my spot nie. Hulle wat op U hoop, sal nooit teleurgesteld wees nie. Maar hulle wat U nie dien nie, sal aan die kortste ent trek.

Daar is baie dinge wat vir baie mense waardevol is – dinge waarsonder hulle voel hulle doodgewoon nie kan klaarkom nie. Ek het een uiters belangrike ding in my lewe geleer: Daar is niks so kosbaar, niks so belangrik, niks so nodig en niks so onontbeerlik in die lewe as hoop nie. As jy nie hoop het nie, is daar geen vooruitsig vir die lewe nie. My pas kruis op die oomblik met ʼn klompie mense wat baie siek is. Ek bewonder hulle vir die hoop waaraan hulle vashou. Ek bewonder hulle vir hul deursettingsvermoë wat kom uit hulle hoop. Waar daar hoop is, is daar lewe en ʼn toekoms. Soveel mense gaan egter hooploos deur die lewe. Baie daarvan het te doen met hul soeke na hoop in verkeerde dinge. Hulle bou spreekwoordelik huise op sand in plaas van op ʼn rots. Dis maar baie wankelrig en baie tydelik as die Here nie jou rots is nie. As jou hoop in die Here is, sal Hy jou nooit teleurstel nie. Dis sy belofte vir jou.

Gebed: Here, dankie vir U belofte van hoop. Dankie dat U my nooit sal teleurstel nie. Dankie dat U my nooit in die steek sal laat solank my hoop in U is nie.

Daar is geen hopelose situasie in die lewe nie. Daar is slegs mense wat hooploos geraak het oor situasies. – Clare Boothe Luce

Bron: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Roeline ·

Amen!
Dit is waar – baie mense bou hul hoop op sand in plaas van op die rots naamlik ons Vader. Ons Vader sal ons nooit in die steek laat nie en dit sê Hy self vir ons! Amen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.