Gedagte vir die dag: God ken jou

Psalm 139:1-3 –  Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U is met al my paaie goed bekend.

God het jou spesiaal verkies om aan Hom te behoort, om in pas met Hom te leef. “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. Deur Jesus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het,” skryf Paulus aan die gemeente in Efese (Efesiërs 1:4, 11).
Nog voordat jy ’n wilsbesluit geneem het om met God in pas te leef, het Hy jou al geken en alles van jou geweet. Hy weet wat jy wil sê vóór jy nog jou mond oopmaak; Hy weet selfs wat in jou gedagtewêreld aangaan! Jy leef elke oomblik in die ruimte van sy teenwoordigheid, soos Psalm 139:3 sê: “Hy is met al jou paaie goed bekend.”
God ken jou só goed dat Hy ook reeds weet of jy op jou beurt gekies het om aan Hom te behoort. Elke tree wat jy op sy pad gee, is reeds aan Hom bekend. As jy ’n keuse gemaak het om van nou af met God in pas te wees, behoort jy elke dag soos sy kind te leef. Petrus stel dit mooi in sy tweede brief: ons moet ons daarvoor beywer om deur ons lewe te bewys dat God ons geroep en verkies het (2 Petrus 1:10). Hoe lyk dit, gaan jy hierdie maand probeer om dit te doen?

Gebed: Here, ek wil graag in pas met U loop en leef. Dankie dat U my lank tevore reeds verkies het om dit te doen. Amen

Bron: Bybelgenootskap van Suid-Afrika,Vers-’n-dag waardeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.